Thursday, July 28, 2011

It's a kind of magic


Gister-aand is twee goeie vriende van ons se seuntjie ingeseën. Elkeen kon ’n mooi seën vir hom uitspreek. Baie soos in die goeie feetjies in Doringrosie sal die seën dan waar word in sy lewe. Ek glo nie in magic nie. Ook nie die Christelike soort waar die geheime toorkragwoorde amens en proklamente is nie. Sorrie hoor! Stront bly stront al hang daar ’n kruisie om sy nek.

Maar dit was spesiaal. Daar was betekenis. En dit was vir my as “gewone” Christen sonder towerstaffie ’n voorreg om daarvan deel te wees. Dit was wonderlik om in ‘n babatjie se bruin ogies te kyk en hom die beste van God se goedheid toe te wens. Hei man, jou lewe is special!

En ek dink aan Shawshank Redemption se gevangene in ’n traliewêreld: “You can be dying or you can be living. The difference is hope.”  En ek dink dat dit nie die warrelende geestesmis van die magiese seënspreuke is wat Ilan deur sy lewe gaan dra nie. Dit is die woordjie tussen geloof en liefde.... hoop. Hoop wat nie vaskyk in die donker graffiti-junk teen die mufmuur van die tonnel nie, maar wie se oë blink in die sonstrale wat inskyn.

En ja,woorde kan soos klitsgras vassit as dit oor ons waai. Mag die mooi woorde wat oor jou waai, nes maak in jou lyfie, klein Stefan. Woorde van wense en hoop in ’n wêreld wat baie tralies het. Hy gee mos genade, liefde en nabyheid – jy proe dit al klaar in jou moedersmelk. Drink dit, kleintjie, drink jou vol.

Magic? Nog meer as magic as jy my sou vra.

No comments:

Post a Comment