Sunday, August 14, 2011

Terugkoms


Môre wil ek myself regmaak vir jou. Soos die dag toe jy met my getrou het. Jy het selfs die vorige aand met krullers in geslaap, as ek reg onthou. Lank voor die son opgestaan om hom “goeie môre” te soen met 'n ingekleurde gesiggie en ‘n warm koppie koffie.

Maar hoe kan 'n man hom mooimaak vir sy enigste? My hart wag nou al lank vir jou. Hy klop aanhoudend “kom Nou, kom Nou”. Elke dag wat jy weg is klop hy ‘n bietjie dringender. Ek is al skoon uitasem. Hy pomp bloed my hele lyf in.

My lyf. My lyf is honger vir 'n driegangmaaltyd saam met jou. Dalk te honger. Miskien ‘n broodkorsie uit my hand eet om my ergste lus te beteuel. Anders verslind ek jou dalk met ‘n dierlike lus wat nie die subtiele sagte kruie van die lamsvleis proe nie. Wanneer jy nader kom met jou oranje tas vol geskenke wil ek jou lyf teen my lyf druk. Om elke vierkante sentimeter te toets om seker te maak: “Voel lyf, sy’s hier!”

Selfs my gedagtes se huis wil ek skoonmaak vir jou. Die clutter wegry sodat jy jou kan tuismaak waar jy wil. Dat ek jou woordjie-prente met al my aandag kan hoor. Dat ek jou woorde, jou geure, jou... in   kan   asem...   en soos ‘n goeie ryp rooiwyn kan rondrol op my tong.

Môre wil ek my mooi maak vir jou.

No comments:

Post a Comment