Wednesday, September 28, 2011

Die Boesman


In die middel van die nag word ek wakker. Sy lê langs my onder die karos en haal saggies asem. Ek skuif nader aan haar lyf en maak lepellê nes teen haar. My handpalm vind haar rondings en pas tevrede daarim. Vir 'n oomblik. My vingerpunt trek dan 'n streep al langs haar rugstring af. Dit trek pyl van tussen haar blaaie tot by die nou kloof van haar uitstaanboudjies. Die sand knars onder ons soos ek nader beweeg.
Die Boesman staan op sy rooi Kalahariesand. Hy haal 'n pyl uit sy koker en toets die sening wanneer hy dit span. Die son sit laag. Dis die tyd wanneer die groot vuur moeër skyn en die woestynjagters weer kan lewe. Die kortman is honger. Hy sien die steenbokspoor wat al op die rif van die duin langs loop. Kosbare vog van lus versamel onder sy droë tong. Die feesmaal is in sy kop, maar die steenbok loop nog los. Die son en stof trek reeds 'n dofrooi streep al op die reguit horison.

Met die boog nou oor sy skouer loop hy die voetspore van sy prooi. Hy word die steenbokooi. Saam met haar spot hy die dorings van die woestyn. Hy proe en lek versigtig en laat sy hafnat tong tussen die dorings deurvleg om behendig die klein blaartjies af te stroop. Die klein plesiertjies van die veld krummel een-een in sy mond. Sensueel rol hy dit rond. 'n Soet sjokoladevrug se blink papier wat versigtig heilig uitgetrek word. Saam proe hulle die soet veldheuning op die punt van sy tong.

Die jagter voel haar hartklop. Die lewensritme stuur morsekode uit vanuit haar skuiling in die droë rivierloop. Instink word 'n roofdier gefokus op 'n dieper honger. 'n Honger gevoed deur geslagte se reȅls van leef en laat miskien leef. Hy word 'n kat wat tree vir tree met sagte vingerkussings sluip op naakte warm sand. Skynbaar doelloos warrel die wind hom al al hoe nader. Die magneet van haar vleis wat hom soos 'n aasvoȅl in 'n vernouende wentelbaan laat sirkel.

Met vry-oop ovale speelspot my vingers oor haar kaal rug. Haar bene. Haar lyf. Kielie soos 'n meerkat wat ligvoets en penorent regmaak vir die finale spring. Die sirkels word nouer. Sy lê nou op haar rug met haar duine wat soos golwe styg en daal, kus toe en terug. Die saggebreide haasvel wat soos satyn na boontoe skuif en styfspan. Ek skuif dit oor die sagte duine en tree die hellings op. 'n Diepsug tussen duim en wysvinger. Ek maak my belt dan los. Kloppend honger al soekend na die natuur se soetste vleis. 'n Potjie met tsammas en gemsbokfillet, kaiings en vetsous. Taaierig om my lippe wat ek smagtend aflek. 'n Happie en 'n proe. Soos 'n suikerbekkie wat sy lang snawel sagkens in die alwynkelk insteek en die soet nektar toets. Ek steek my snawel diep in my alwynmens in. Sy klim dieper in my in. En weer uit. En proe oor en oor die lewe se soetsap. Ons dans om die warm vuur en word van voor af beste maats. Vriende wat alles deel – geheime plekke, fantasië, ons donker gangetjies. Ons diepste menswees. Ons toekoms saam.

Die jagter is op sy hurke en word een met die ooi. Hy span sy boog tot diskant breekpunt. Hy maak sy krom vingers reguit. Die pyl voel verlig die vryheid van die natuurwette en klief na die klimaks van sy bestaan. Hy skiet deur die lug tot sielsdiep in haar lewensaar. Wanneer sy ooiprooi inmekaarsak met glasige oë, verlaat 'n saad van sy lewe ook vir hom. Plat met sy gesig op sy rooi Kalahariesand lê hy soos 'n dooie. Hy dank haar gees wat sy so onselfsugtig deel. Iets spesiaal in sy veld is dood.

Nege maande later, in die Winter van 2012, is Nǃxau gebore. Uit die bloedrooi sand het hy opgestaan. En die wȇreld sou kennis maak met 'n versamelvoȅl wat altyd plek het vir nog 'n vreemde in die nasie. 'n Reus wat die leuse van ons land kon uitspreek in klikke, klakke en dade. !ke e:/xarra //ke. Eendrag maak mag. 'n Nuwe toekoms wat begin het met 'n kriewel in die stof en 'n saadjie wat vol hoop in droȅ rooisand geplant is.