Wednesday, August 8, 2012

Grace


Grace het hier in ons huis begin werk. Ongenooi het sy een oggend by ons kleinhekkie gestaan. “Jammer, ons het iemand,” jok ek eers vir haar. “En ons het nie geld nie”, dog ek ek beklink die transaksie. Maar sy was sterker as ek. “Die eerste keer ek doen hom verniet,” lag sy met 'n innige plaas-Afrikaans. Ag, hoekom nie. Sy het eers die skottelgoed gewas. Die blaaie met ’n nat waslap afgevee.Toe die vensterbanke bolangs afgestof.

Sy het kamer vir kamer aangepak. Dit was asof sy maar net vinnig wou loer na die sitkamer waar ons regop op ou kussings probeer sit het. Haar oë het skeef en hartseer geglimlag na die absurde fassade wat ons voorhou. Toe maar liewer by die badkamer begin. Ou waslappe wat ons opgaar weggesmyt. Die alge in die teëls se gleuwe afgeskuur. Dit gewaag om die toiletborsel uit te haal en die taak aan te pak. Die jaarringe in die bad. Met elke stukkie blink wat sy in ons lewens terugsit, kry haar woordlose neurie ’n ekstra swaai..

Die stofkunstenaar se oë blink wanneer sy deurstap na ons slaapkamer. Ons skuif die bed weg en haar besem toor die bondels stof, donse en hare weg. Die swart engel stof die gloeilampe af wat nou nuwe lig gee. 'n Nuwe laken in die gevlekte een se plek.

Die liedjie stap nou by die gang af waar ons familiefotos hang. Elke jaar of vyf 'n nuwe collage.
My oupa en ouma”, antwoord ek haar. “Nee, hulle is al dood.”
My suster in Natal... sy is mooi ja.... Nee, sy is geskei.”
Hulle ook, ja.”
Nie meer nie”
En Grace vee die swart strepe agter die rame weg met haar Handy Andy lap. Sy skuif die rame weer reguit dat die gesigte my weer mooi in die oë kan kyk. En ek kyk vir 'n lang minuut terug waar ek gewoonlik met groot tree verbysnel.

Die kombuis. Eetkamer. Speelkamer waar jare se saamsit en boekielees al weggeraak het onder opgestapelde vergete. Oral verf haar wysie strepe lig teen ons mure. Sy sing 'n oopte in ons huis in met spatsels hoop wat ronddans teen die dak. Sy swaai haar volstruisveer-towerstaf en die chimes by die skuifdeur maak musiek. Dit begelei haar wysie soos sterre wat knipoog twinkle.

Wat het hier gebeur?” vra vroulief toe sy vroeg-aand van die werk afkom. Uit die veld geslaan. Skepties vir 'n halwe storie. Ek vertel haar van Grace.
Wow”, sȇ sy. “Kom sy weer?”
Maar met soveel ander dinge het ek vergeet om te vra. En... geld het ons nog steeds nie.

Die volgende Woensdag. En daar staan Grace weer. Met dieselfde uittand lag.
Hierdie keer,” sȇ sy, “ek doen hom verniet”
Hierdie keer bly ek verstomstil. Sluit net die hekkie oop en laat haar voorstap na die voordeur. Sy self het 'n gemaklike stilte om haar, so asof sy nog altyd hier hoort. Vandag is dit die kinders se slaapkamers se beurt. Handevol verlore skatte kom oral uit hoeke en bondels.

Alles beter as goed. Totdat.... Totdat sy liggies klop aan my studeerkamerdeur waar ek myself gevange hou. Sy loer in my heiligdom in en sien die stof op die glasblad. Die pakke papier van maande terug onder die tafel ingeskuif. Nog nooit het ek iemand anders hier laat afstof nie. En ek self stof ook nie af nie. Wat help 'n allerbinneste as al wat jy daar doen 'n afstowwery kan wees?

“Die trein hy is amper by die stasie”, sê sy. “Ek kom weer.”

4 comments:

  1. So lekker gelees! So sielsmooi geskryf.

    ReplyDelete
  2. Ai Ai Naude. Dit was so lekker om te lees. Wonderlik en waar geskryf. Verlang sommer na my Johanna

    ReplyDelete
    Replies
    1. Dankie Brenda - ek is seker die land verlang na julle ok! :-)

      Delete