Grace het
hier in ons huis begin werk. Ongenooi het sy een oggend by ons
kleinhekkie gestaan. “Jammer, ons het iemand,” jok ek eers vir
haar. “En ons het nie geld nie”, dog ek ek beklink die
transaksie. Maar sy was sterker as ek. “Die eerste keer ek doen hom
verniet,” lag sy met 'n innige plaas-Afrikaans. Ag, hoekom nie. Sy
het eers die skottelgoed gewas. Die blaaie met ’n nat waslap
afgevee.Toe die vensterbanke bolangs afgestof.
Sy het
kamer vir kamer aangepak. Dit was asof sy maar net vinnig wou loer na
die sitkamer waar ons regop op ou kussings probeer sit het. Haar oë
het skeef en hartseer geglimlag na die absurde fassade wat ons
voorhou. Toe maar liewer by die badkamer begin. Ou waslappe wat ons
opgaar weggesmyt. Die alge in die teëls se gleuwe afgeskuur. Dit
gewaag om die toiletborsel uit te haal en die taak aan te pak. Die
jaarringe in die bad. Met elke stukkie blink wat sy in ons lewens
terugsit, kry haar woordlose neurie ’n ekstra swaai..
Die
stofkunstenaar se oë
blink wanneer sy deurstap na ons slaapkamer. Ons skuif die bed weg en
haar besem toor die bondels stof, donse en hare weg. Die swart engel
stof die gloeilampe af wat nou nuwe lig gee. 'n Nuwe laken in die
gevlekte een se plek.
Die
liedjie stap nou by die gang af waar ons familiefotos hang. Elke jaar
of vyf 'n nuwe collage.
“My
oupa en ouma”, antwoord ek haar. “Nee, hulle is al dood.”
“My
suster in Natal... sy is mooi ja.... Nee, sy is geskei.”
“Hulle
ook, ja.”
“Nie
meer nie”
En
Grace vee die swart strepe agter die rame weg met haar Handy Andy
lap. Sy skuif die rame weer reguit dat die gesigte my weer mooi in
die oë
kan kyk. En ek kyk vir 'n lang minuut terug waar ek gewoonlik met
groot tree verbysnel.
Die
kombuis. Eetkamer. Speelkamer waar jare se saamsit en boekielees al
weggeraak het onder opgestapelde vergete. Oral verf haar wysie strepe
lig teen ons mure. Sy sing 'n oopte in ons huis in met spatsels hoop
wat ronddans teen die dak. Sy swaai haar volstruisveer-towerstaf en
die chimes by die skuifdeur maak musiek. Dit begelei haar wysie soos
sterre wat knipoog twinkle.
“Wat
het hier gebeur?” vra vroulief toe sy vroeg-aand van die werk
afkom. Uit die veld geslaan. Skepties vir 'n halwe storie. Ek vertel
haar van Grace.
“Wow”,
sȇ
sy. “Kom sy weer?”
Maar met
soveel ander dinge het ek vergeet om te vra. En... geld het ons nog
steeds nie.
Die
volgende Woensdag. En daar staan Grace weer. Met dieselfde uittand
lag.
“Hierdie
keer,” sȇ
sy, “ek doen hom verniet”
Hierdie
keer bly
ek verstomstil. Sluit net die hekkie oop en laat haar voorstap na die
voordeur. Sy self het 'n gemaklike stilte om haar, so asof sy nog
altyd hier hoort. Vandag is dit die kinders se slaapkamers se beurt.
Handevol verlore skatte kom oral uit hoeke en bondels.
Alles
beter as goed. Totdat.... Totdat sy liggies klop aan my
studeerkamerdeur waar ek myself gevange hou. Sy loer in my heiligdom
in en sien die stof op die glasblad. Die pakke papier van maande
terug onder die tafel ingeskuif. Nog nooit het ek iemand anders hier
laat afstof nie. En ek self stof ook nie af nie. Wat help 'n
allerbinneste as al wat jy daar doen 'n afstowwery kan wees?
“Die
trein hy is amper by die stasie”, sê
sy. “Ek kom weer.”