Skielik is ek anders. Meer as 'n dagdroom. Beelde waaraan ek kan vat. My lyf is daar. ’n Vatbare stuk verbeelding met goue glans en boodskapper vlerke. Met ’n sagte stem wat swaar en solied op my ore val. En hy fluister woorde wat ek nie kan oorsê nie, maar wat ek instinktief verstaan. Soos stippels saad in my ore wat met betekenis ontplof. Wil jy groei in my liefde? Wil julle soos een asemhaal? Wil jy liewer word vir haar? Wil jy hê dat sy liewer word vir jou? Wil jy meer mens word? “Ja Here” breek my stem soos stof deur my lippe. En die stof kan ek nie terugsuig nie. En ek wil ook nie; verder as wil wil ek groei.
En ek is terug op my stoel met die wete dat ek nog die rekening moet betaal.
Die kitaar begin met Brown Eyed Girl en daar kom sy met ’n vars wildheid wat op tafels wil dans. Met 'n loopdans in haar lyf skuif sy by haar stoel in. 'n Tergende woordjie wat my vermy. Dan leun sy vorentoe met 'n vasberade kyk wat ek nie ken nie. Kyk my in die oe en se: “Hier's die deal. Ek wil skei.”