Saturday, July 30, 2011

Die Rekening

n Romantiese, rustige aand by ‘n semi-formele restaurant. Net ek en my vroutjie oorkant mekaar met ’n parafienlampie wat lig en skadu laat ronddans in haar oë. Die klank van live saksofoon wat saam met ’n backtrack speel gooi ’n oranje gloed teen die mure. En tog... ’n stilte tussen ons wat soos ’n donker baskitaar ondergronds fluister. Hier en daar kielie ons woorde versigtig mekaar. So voel-voel na gisteraand se emosies. Maar dis goed om tyd hier vir mekaar te hê. Net vir mekaar. En die glasie Graca wat die resies na ons bloedstrome wen laat my kop dans saam met die musiek. Hierdie keer ’n jazz klank op elektriese kitaar waarop ons koppe begin draai. Sy verskoon haarself na die neuspoeierplek en ek begin ontspan, sit terug en luister.

Skielik is ek anders. Meer  as 'n dagdroom. Beelde waaraan ek kan vat. My lyf is daar. ’n Vatbare stuk verbeelding met goue glans en boodskapper vlerke. Met ’n sagte stem wat swaar en solied op my ore val. En hy fluister woorde wat ek nie kan oorsê nie, maar wat ek instinktief verstaan. Soos stippels saad in my ore wat met betekenis ontplof. Wil jy groei in my liefde? Wil julle soos een asemhaal? Wil jy liewer word vir haar? Wil jy hê dat sy liewer word vir jou? Wil jy meer mens word? “Ja Here” breek my stem soos stof deur my lippe. En die stof kan ek nie terugsuig nie. En ek wil ook nie; verder as wil wil ek groei.

En ek is terug op my stoel met die wete dat ek nog die rekening moet betaal.

Die kitaar begin met Brown Eyed Girl en daar kom sy met ’n vars wildheid wat op tafels wil dans. Met 'n loopdans in haar lyf skuif sy by haar stoel in. 'n Tergende woordjie wat my vermy. Dan leun sy vorentoe met 'n vasberade kyk wat ek nie ken nie. Kyk my in die oe en se: “Hier's die deal. Ek wil skei.”

No comments:

Post a Comment