Ek is mal oor klein dogtertjies. Ek hou van seuntjies, maar laerskool dogtertjies is darem besonder cute.
En vreemd (dalk nie so vreemd nie) het baie van die maats by Laerskool Bergsig dit die afgelope drie jaar agtergekom. Ek sit skaars my voete op die terrein of dis ’n gelate “Hallo Oom!” of “Dominee!” en die goed storm op my af. Ek is dol daaroor. My hart glimlag van aar tot aar. Party van die songesiggies kry ’n skuins een-arm drukkie. Ander ’n twee-arm omhelsing. Die Standerd 5 seuns (askies: Graad 7’s!) is al te groot vir sulke sissie-stuff, maar ’n glimlag en groet van hulle beteken amper net so veel. Maar as dit dalk ek en ’n uitgesoekte groep van kleiner mensies is... As ons al ’n ent verder in mekaar se harte en vertroue ingekruip het, is dit ‘n in-die-lug-op gooi. Of 'n vinnige rondswaai. Of deesdae selfs ‘n whieee-boiink. 'n “Whieee-boiink is nou ’n spesifieke spring-gooi-vang ritueel wat my eie kinders by hulle beste maats oor gebrag het. Helemal te ingewikkeld om sonder prentjies hier te verduidelik. Vinnig het die whiee-boiink die in-ding geword. Ek is die whieee-boiink oom. Die drukkies oom. Die oom wat liefde buite die huis gee waar bloedpappas nooit geleer het hoe om dit binne die huis te gee nie. Daar waar bloedpappas darem nog huis toe kom.
Die week wat verby is het ek en my vrou ’n hartseer reality-check gehad. Die een graad R juffrou het diplomaties ge-sterkskimp dat hierdie pappa eerder die gedrukkiery moet staak. Party ouers is baie sensitief oor hulle kinders, het sy versigtig verduidelik. Ek is nie kwaad vir die juffrou nie; ook nie vir die ouers nie. Om die waarheid te sê sien ek in dat beide die presies regte ding doen. Lees gou weer die eerste twee sinne van hierdie skryfsel met die oog van iemand wat my nie ken nie. (Dalk het jy al met die eerste lees daarvan!) Beslis wil ek nie hê dat enige vreemde oom my dogtertjie ’n drukkie of ‘n “whieee-boiink” moet gee nie!
Dis sad vir my dat die wêreld so is. Die wêreld, so het ons almal op een of ander manier al uitgevind, is nie ‘n onskuldige plek nie. Langs die pad verander die einste babagesiggies na mans (en vrouens!) wat verwoesting saai in die onskuldiges en naiewes se lewens. Was dit maar anders!’n Wêreld waar almal vir almal drukkies kon gee. Sonder vrese vir verdraaide en siek bybedoelings. Sou dit tog nie wonderlik wees nie!
Ek dink dit was die Skandinawiër Kierkegaard (uitspraak: Kier-ke-ghor. Shame) wat die storie oor hemel en hel vertel het. In die hel, so vertel hy, is die tafels tot brekens gelaai met lieflike geregte. Skaapboud, daai lekker gebraaide aartappels, melkpoeding soos net jou ouma dit kan maak. Heerlike weer ook, anders as wat die rumours hardloop. Die inwoners sit in gemaklike stoele reg om weg te val. Maar hulle kry nie geëet nie. Hulle messe en vurke is geniaal ontwerp dat dit te lank is om die kos in jou mond te kan kry. En uitgehonger en sad sit die spul daar.
Kom ons vat 'n toer na die hemel. Kom ons copy en paste (“hak en plak” in Afrikaans) die hel se beskrywing net so hier oor. Heerlike kos, lieflike weer, elke ding. Maar die mense glimlag en kuier. Die messe en vurke? Selfde ding! Maar hulle voer hulle vriende aan die oorkant van die tafel daarmee. Wow, wat 'n verskil. Dis nou hemels vir jou.
Ai, as dit maar hemel hier in Bergsig-land was! Maar nou moet ek wraggies my langsteel arms agter my rug hou. Want as ek 'n kind liefde soeter as swieties wil voer, word ek agterdogtig agterna gekyk. My hande is afgekap. As die wereld maar 'n beter plek was!
En ek stap hartseer en honger weg van die tafel wat heerlik gedek staan. Ek hoor die kinders in die skoolsaal oefen vir die kerskonsert. In engeltjiestemme:
“Ere aan God in die hoogste hemel
en vrede op aarde vir die mense
in wie Hy 'n welbehae het”
So waar, so jammer, so mooi geskryf!
ReplyDeleteEk lees jou menswees in elke reël.