Saturday, November 12, 2011

Hemel op aarde

Ek is mal oor klein dogtertjies. Ek hou van seuntjies, maar laerskool dogtertjies is darem besonder cute.

En vreemd (dalk nie so vreemd nie) het baie van die maats by Laerskool Bergsig dit die afgelope drie jaar agtergekom. Ek sit skaars my voete op die terrein of dis ’n gelate “Hallo Oom!” of “Dominee!” en  die goed storm op my af. Ek is dol daaroor. My hart glimlag van aar tot aar. Party van die songesiggies kry ’n skuins een-arm drukkie. Ander ’n twee-arm omhelsing. Die Standerd 5 seuns (askies: Graad 7’s!) is al te groot vir sulke sissie-stuff, maar ’n glimlag en groet van hulle beteken amper net so veel. Maar as dit dalk ek en ’n uitgesoekte groep van kleiner mensies is...  As ons al ’n ent verder in mekaar se harte en vertroue ingekruip het, is dit ‘n in-die-lug-op gooi. Of 'n vinnige  rondswaai. Of deesdae selfs ‘n whieee-boiink. 'n  “Whieee-boiink is nou ’n spesifieke spring-gooi-vang ritueel wat my eie kinders by hulle beste maats oor gebrag het. Helemal te ingewikkeld om sonder prentjies hier te verduidelik. Vinnig het die whiee-boiink die in-ding geword.  Ek is die whieee-boiink oom. Die drukkies oom. Die oom wat liefde buite die huis gee waar bloedpappas nooit geleer het hoe om dit binne die huis te gee nie. Daar waar bloedpappas darem nog huis toe kom.

Die week wat verby is het ek en my vrou ’n hartseer reality-check gehad. Die een graad R juffrou het diplomaties ge-sterkskimp dat hierdie pappa eerder die gedrukkiery moet staak. Party ouers is baie sensitief oor hulle kinders, het sy versigtig verduidelik. Ek is nie kwaad vir die juffrou nie; ook nie vir die ouers nie. Om die waarheid te sê sien ek in dat beide die presies regte ding doen. Lees gou weer die eerste twee sinne van hierdie skryfsel met die oog van iemand wat my nie ken nie. (Dalk het jy al met die eerste lees daarvan!) Beslis wil ek nie hê dat enige vreemde oom my dogtertjie ’n drukkie of ‘n “whieee-boiink” moet gee nie!

Dis sad vir my dat die wêreld so is. Die wêreld, so het ons almal op een of ander manier al uitgevind, is nie ‘n onskuldige plek nie. Langs die pad verander die einste babagesiggies na mans (en vrouens!) wat verwoesting saai in die onskuldiges en naiewes se lewens. Was dit maar anders!’n Wêreld waar almal vir almal drukkies kon gee. Sonder vrese vir verdraaide en siek bybedoelings. Sou dit tog nie wonderlik wees nie!

Ek dink dit was die Skandinawiër Kierkegaard (uitspraak: Kier-ke-ghor. Shame) wat die storie oor hemel en hel vertel het.  In die hel, so vertel hy, is die tafels tot brekens gelaai met lieflike geregte. Skaapboud, daai lekker gebraaide aartappels, melkpoeding soos net jou ouma dit kan maak. Heerlike weer ook, anders as wat die rumours hardloop.  Die inwoners sit in gemaklike stoele reg om weg te val. Maar hulle kry nie geëet nie. Hulle messe en vurke is geniaal ontwerp dat dit te lank is om die kos in jou mond te kan kry. En uitgehonger en sad sit die spul daar.

Kom ons vat 'n toer na die hemel. Kom ons copy en paste (“hak en plak” in Afrikaans) die hel se beskrywing net so hier oor. Heerlike kos, lieflike weer, elke ding. Maar die mense glimlag en kuier. Die messe en vurke? Selfde ding! Maar hulle voer hulle vriende aan die oorkant van die tafel daarmee. Wow, wat 'n verskil. Dis nou hemels vir jou.

Ai, as dit maar hemel hier in Bergsig-land was! Maar nou moet ek wraggies my langsteel arms agter my rug hou. Want as ek 'n kind liefde soeter as swieties wil voer, word ek agterdogtig agterna gekyk. My hande is afgekap. As die wereld maar 'n beter plek was!

En ek stap hartseer en honger weg van die tafel wat heerlik gedek staan. Ek hoor die kinders in die skoolsaal oefen vir die kerskonsert. In engeltjiestemme:

“Ere aan God in die hoogste hemel
en vrede op aarde vir die mense
in wie Hy 'n welbehae het”

Wednesday, September 28, 2011

Die Boesman


In die middel van die nag word ek wakker. Sy lê langs my onder die karos en haal saggies asem. Ek skuif nader aan haar lyf en maak lepellê nes teen haar. My handpalm vind haar rondings en pas tevrede daarim. Vir 'n oomblik. My vingerpunt trek dan 'n streep al langs haar rugstring af. Dit trek pyl van tussen haar blaaie tot by die nou kloof van haar uitstaanboudjies. Die sand knars onder ons soos ek nader beweeg.
Die Boesman staan op sy rooi Kalahariesand. Hy haal 'n pyl uit sy koker en toets die sening wanneer hy dit span. Die son sit laag. Dis die tyd wanneer die groot vuur moeër skyn en die woestynjagters weer kan lewe. Die kortman is honger. Hy sien die steenbokspoor wat al op die rif van die duin langs loop. Kosbare vog van lus versamel onder sy droë tong. Die feesmaal is in sy kop, maar die steenbok loop nog los. Die son en stof trek reeds 'n dofrooi streep al op die reguit horison.

Met die boog nou oor sy skouer loop hy die voetspore van sy prooi. Hy word die steenbokooi. Saam met haar spot hy die dorings van die woestyn. Hy proe en lek versigtig en laat sy hafnat tong tussen die dorings deurvleg om behendig die klein blaartjies af te stroop. Die klein plesiertjies van die veld krummel een-een in sy mond. Sensueel rol hy dit rond. 'n Soet sjokoladevrug se blink papier wat versigtig heilig uitgetrek word. Saam proe hulle die soet veldheuning op die punt van sy tong.

Die jagter voel haar hartklop. Die lewensritme stuur morsekode uit vanuit haar skuiling in die droë rivierloop. Instink word 'n roofdier gefokus op 'n dieper honger. 'n Honger gevoed deur geslagte se reȅls van leef en laat miskien leef. Hy word 'n kat wat tree vir tree met sagte vingerkussings sluip op naakte warm sand. Skynbaar doelloos warrel die wind hom al al hoe nader. Die magneet van haar vleis wat hom soos 'n aasvoȅl in 'n vernouende wentelbaan laat sirkel.

Met vry-oop ovale speelspot my vingers oor haar kaal rug. Haar bene. Haar lyf. Kielie soos 'n meerkat wat ligvoets en penorent regmaak vir die finale spring. Die sirkels word nouer. Sy lê nou op haar rug met haar duine wat soos golwe styg en daal, kus toe en terug. Die saggebreide haasvel wat soos satyn na boontoe skuif en styfspan. Ek skuif dit oor die sagte duine en tree die hellings op. 'n Diepsug tussen duim en wysvinger. Ek maak my belt dan los. Kloppend honger al soekend na die natuur se soetste vleis. 'n Potjie met tsammas en gemsbokfillet, kaiings en vetsous. Taaierig om my lippe wat ek smagtend aflek. 'n Happie en 'n proe. Soos 'n suikerbekkie wat sy lang snawel sagkens in die alwynkelk insteek en die soet nektar toets. Ek steek my snawel diep in my alwynmens in. Sy klim dieper in my in. En weer uit. En proe oor en oor die lewe se soetsap. Ons dans om die warm vuur en word van voor af beste maats. Vriende wat alles deel – geheime plekke, fantasië, ons donker gangetjies. Ons diepste menswees. Ons toekoms saam.

Die jagter is op sy hurke en word een met die ooi. Hy span sy boog tot diskant breekpunt. Hy maak sy krom vingers reguit. Die pyl voel verlig die vryheid van die natuurwette en klief na die klimaks van sy bestaan. Hy skiet deur die lug tot sielsdiep in haar lewensaar. Wanneer sy ooiprooi inmekaarsak met glasige oë, verlaat 'n saad van sy lewe ook vir hom. Plat met sy gesig op sy rooi Kalahariesand lê hy soos 'n dooie. Hy dank haar gees wat sy so onselfsugtig deel. Iets spesiaal in sy veld is dood.

Nege maande later, in die Winter van 2012, is Nǃxau gebore. Uit die bloedrooi sand het hy opgestaan. En die wȇreld sou kennis maak met 'n versamelvoȅl wat altyd plek het vir nog 'n vreemde in die nasie. 'n Reus wat die leuse van ons land kon uitspreek in klikke, klakke en dade. !ke e:/xarra //ke. Eendrag maak mag. 'n Nuwe toekoms wat begin het met 'n kriewel in die stof en 'n saadjie wat vol hoop in droȅ rooisand geplant is.

Sunday, August 14, 2011

Terugkoms


Môre wil ek myself regmaak vir jou. Soos die dag toe jy met my getrou het. Jy het selfs die vorige aand met krullers in geslaap, as ek reg onthou. Lank voor die son opgestaan om hom “goeie môre” te soen met 'n ingekleurde gesiggie en ‘n warm koppie koffie.

Maar hoe kan 'n man hom mooimaak vir sy enigste? My hart wag nou al lank vir jou. Hy klop aanhoudend “kom Nou, kom Nou”. Elke dag wat jy weg is klop hy ‘n bietjie dringender. Ek is al skoon uitasem. Hy pomp bloed my hele lyf in.

My lyf. My lyf is honger vir 'n driegangmaaltyd saam met jou. Dalk te honger. Miskien ‘n broodkorsie uit my hand eet om my ergste lus te beteuel. Anders verslind ek jou dalk met ‘n dierlike lus wat nie die subtiele sagte kruie van die lamsvleis proe nie. Wanneer jy nader kom met jou oranje tas vol geskenke wil ek jou lyf teen my lyf druk. Om elke vierkante sentimeter te toets om seker te maak: “Voel lyf, sy’s hier!”

Selfs my gedagtes se huis wil ek skoonmaak vir jou. Die clutter wegry sodat jy jou kan tuismaak waar jy wil. Dat ek jou woordjie-prente met al my aandag kan hoor. Dat ek jou woorde, jou geure, jou... in   kan   asem...   en soos ‘n goeie ryp rooiwyn kan rondrol op my tong.

Môre wil ek my mooi maak vir jou.