Monday, October 19, 2015

Debra vertel: Mister Prince en ek

Die eerste wat ék van hom gesien het, was die punt van 'n staalpyp. Gewoonlik is daar nie staalpype wat snags om die hoek van my kombuis aangesweef kom nie. Die stuk pyp het al hoe langer geword. En toe verskyn 'n swart hand en 'n lyf agter die pyp. Aan die bokant van die lyf was 'n blops en 'n hoed. En twee gelerige oë wat tussen rafels my probeer raaksien. Ek het hom op en af gekyk:

"Verskoon my, wat doen jy hier?"
"Mompel mommpel mommpel!"
"Ek kan jou nie hoor nie. Jy sal daai ding van jou kop moet afhaal. Of iets."

Hy volg my eerste voorstel en haal die ou onderbroek van sy kop af. (Sy oë het deur die bene se spasies geloer, sien ek. Sy neus was dus... toemaar.)  Hy praat toe weer, hierdie keer ietwat duideliker sonder die undies-aksent.

"Where's the money?" Wraggies, het die ma haar grootseun niks maniere geleer nie? "What are you doing here? Don’t you have any respect?"  Dis asof ek buite my lyf staan. ‘n Reuse Pocahontas wat afkyk op ‘n vreemde Africa-hood produksie.  Die middeljarige tannie praat sag daar onder, maar haar geaffronteerdheid sny tog deur.  "You come into my house and want money and I didn't even invite you in. We can’t do it that way!"

"Where's the money?", vra hy weer. Duidelik weet hy nie hoe swaar boekwinkels deesdae kry nie. "Al geld wat ek het is in my handsak in my kamer", lieg ek bietjie en slaan oor na Afrikaans.  Hier in die Vrystaat verstaan almal mos die taal.  En so ongenooid as wat hy is hoef hy mos nie van die kluis te weet nie. Selfvoldaan krap hy in sy stywe broeksak en kom met twee opgefrommelde twintig-rand note te voorskyn. "I already have that." Hy rol sy r'e so mooi. "Where's the rest?"

Dis toe dat ek weer na die pyp in sy hande kyk. Ek ken die ding. Het ek nie juis 'n maand terug vir André gesê die martial arts-ding moet uit die huis uit nie? Die gedoente is evil. Hy loer vir my. Toe gooi my seun hom doer agter teen die stoor in die lang gras. "We really can' t have that pipe in here. If you're not careful you'll break something." "Yes, madam", sê hy.  Hy vat die pyp met twee hande. Knak die knieë terwyl hy effe afkyk en  met sy oop hande dit vir my aanbied soos 'n wafferse trofee. "Dankie."  Goeie maniere, ekke. En ek bêre die ding agter die toonbank. Uit die oog, uit die geheue.

"I can hurt you and rape you", sê hy. "Yes. But why would you? Sit," sê ek. En daar by die kombuistafeltjie voer ek hom die mince wat nog warm op die pan staan. Ek hou hom besig met vra, anders dink hy dalk aan al die ander dinge wat hy met my kan doen.

"Wat’s jou naam?" "Prince", hy rek homself koninklik uit.  "Ja, Prins, maar wat is jou naam?" Thobela Masungu. "Waar bly jy?"  By sy tannie, maar hy’s uit op parool. Kyk die tatoos as hy sy hemp vir my uittrek. Hy stop die mince in. Dit meng met 'n alkohol-reuk as hy my kant toe praat. "Wat's haar cell number? " Hy gee dit.  Die tannie aan die ander kant van die toonbank (is dit nog ek?) skryf dit neer op 'n los papier sonder dat hy sien.

Met die laaste hap loer hy oor die tafeltjie: "What's that?" Ek draai die papier om. Doodsake.
"A poem", sê ek, want, dit is 'n poem. "Kan jy lees?" ‘n Gevaarlike vlam in sy oë. "I've got standerd 5, madam". Maar hy's ongemaklik. Hy kan nie.  "May I read it to you?"  Knik.

Die gedig se titel is "It's not their fault”. Nog nooit was daar so 'n captive audience as hy nie.  Toe groet hy. Ek stuur hom weg met 'n gevriesde varkboud. Deur die venster sien ek hoe hy soos 'n pink panther op sy tone loop toe hy verby die polisiestasie sluip.


Môre sien ek Thobela weer. Hierdie keer in die hof. Hy het al te veel keer daarmee weggekom. Al was daar nie hierdie keer moord by betrokke nie.

1 comment:

  1. Oe ha ha ha! Hoe lekker het ek nou gelees Kritz! Dit link na 'n beter taktiek as moord en mayhem! Hoop sy tannie het daai varkboud geniet!

    ReplyDelete